Tuesday, November 20, 2007

Nog praat

Hartlik almal!

Nee wat, hierdie bus is op pad. Geen bekommernis nie. Ons is nog nie op "big dipper" spoed nie, maar vinnig besig om op te bou en sal dit seker teen so volgende jaar, Maart - April - Mei se koers te hê. Dan sal ons "peak" soos die Bulls in 2007 se Super 14 "gepeak" het voor die eindstryd. (Maggies, hulle was darem gelukkig. Let wel - gelukkig, nie goed nie, net gelukkig) Vir die wat vergeet het, daar het julle dit nou weer as tere herinnering. Bester was nog nooit 'n Bul nie - was nog nooit my span nie. Ongelukkig (eintlik gelukkig) met 'n Blou Bul vrou getrou en moet nou die kinders as Bulle groot maak.

Wel, om aan te karring met die paralelle.... as ons teen Mei maand kan "peak" en voort stoom tot deur die reunie naweek, glo ek dit sal werklik 'n groot sukses wees. 'n Soete dag, soos dit vir party van ons was in die 2007 Super 14! (So na, om en by 40 jaar wel 'n os geword - vir die wat weet van paralelle trek)

Ek was vir die hele laasweek uitstedig en het met groot onsekerheid (verwagting) gewonder oor watter reaksie vir my wag op die tuisrekenaar se "e-mail inbox". Iemand het eendag gesê die onsekerheid is vir hom deel van die lekker van liedjies skryf / flieks maak / boek skryf..... ek kan nie onthou van wie ek dit gelees het nie, was of sanger, of regisseur, of skrywer. Alle geval, die gevoel is seker maar dieselfde vir almal. Ek was werklik onseker of almal die ding gaan gryp en hardloop. Of almal dieselfde behoefte daaraan het...... Marléne laat weet my toe so middel laas week sy het die kontakte lys begin opdateer met al die nuwe name wat bygekom het. Dit was 'n groot verligting en die opgewondenheid het soos 'n Tsunami begin bou. (Met haar eerste die sanger storie gedeel - wonder nou nog waar ek dit gelees het?) Ek het al skoon vergeet ek het die kontakte lys op die blog gesit - Marléne moes my daaraan herinner - partykeer doen en sê ek dinge wat ek self nie aldag eers van weet nie....

Die uitstedigheid - een van die dae was "well spent" waar ek die geleentheid gehad het om na 'n praatjie van Steve Farber te kon luister. Hy is baas van 'n groep in Amerika wat hulle besig hou met menslike ontwikkeling en so meer. Paar goeie boeke al geskryf, die man. Ek wil nie hier ingaan op sy spesialisveld nie - die wat weet van hom, sal weet waarvan ek praat. Alle geval, die een ding wat hy met ons bespreek het was vir my ongelooflik treffend en ek kon dadelik "relate" tot wat hy praat en pyle trek na ons reunie beplanning. Die man praat van 'n ding soos OS! M. Dit staan nou nie eintlik vir 'n formule nie, en ek kan dit in geen ander terme as die regte woorde verduidelik nie. Hy praat van 'n O, Shit! Moment. Onder andere dat mens sulke oomblikke moet soek en nastreef, Miskien meer daaroor vorentoe. Wat ek eintlik wil sê - die blik wurms storie waarna ek laas verwys het is darem regtig nie 'n goeie vergelyking van wat gebeur het nie. Dit was eerder 'n OS! M gewees. Julle weet, daai gevoel van.... wat de donner het jy nou weer gemaak! Hou vas en ry die ding uit!

Wat wil ek eintlik sê? Weet self nie, maar wat soos 'n paal bo water staan - vandat die eerste pos begin loop het, het elkeen 'n bydrae gemaak tot hierdie OS! M en elkeen se bydrae maak dit spesiaal - vir almal. Wat meer kan mens sê - die stomp gesaagde woorde (is dit afgesaagde?) van dit word baie waardeer is darem holler as hol vir elkeen se bydrae. Kom ons "nurse" hierdie gevoel van die OS! M, bou dit selfs meer uit en gaan voluit tot die reunie.

Jong, hierdie kop is lekker deurmekaar. Probeer nou weer hier bo lees wat ek wil sê, waarby ek wil uitkom, wat ek wil verduidelik, wat ek wil vra, maar die woorde wil net nie agter mekaar val soos dit moet nie. 'n Brabbelende Bester wat nog nooit tot die punt kon kom nie. Almal praat van almal wie se besonderhede hulle by mekaar kan kry. Ek loop heeltyd met die ding om te sê ek kan darem ook 'n stuiwer bygooi, maar vergeet elke keer om dit te noem. (Praat van deurmekaar.) Ek weet waar Janette Wierenga is, maar kom net nie sover nie. Slaan my dood - ek het haar trou van vergeet - ek weet haar man is Stephan? Alle geval - sy is een van daai mense wat vir Manto 'n pit gedruk het en die apteke kook nog daar in Pietersburg. Ek sal my suster vra om haar adres te kry dat sy ook op die wa kan klim. Pietersburg, nie Polokwane nie - jong, ek sny dun, hierdie is nie 'n plek vir politiek nie, maar ek moes darem net sê - dis Pietersburg. Polokwane val sagter op die tong en die oor, maar dit is Pietersburg - vir die kinders se wortels.

Net om gou weer toue bymekaar te sit en te draai vir die knoop. Die volgende mense is "ge ID" wat tans blykbaar "traceable" is, maar wie se kontakbesonderhede nog nie ontvang is nie. Vir die wat gesê het hulle weet waar om die mense te kontak...., maak so. Laat weet ook sommer wie word op hoogte gehou, al het hulle nie op die oomblik mail adresse nie. Ons sit hulle name ook op en voorlopig in die "Ander kontak detail" kolom die naam van die persoon wat hom/haar inligting gee. So van die ander kolom gepraat - Marléne, dit wat jy doen is onskatbaar. Die lys, die opoffering van aanstaande jaar se vakansie..., ek hoop hierdie reunie sal vir jou darem ook so spesiaal wees soos die vakansie sou wees. Pieter (du Toit) dankie vir die "update" - dit wys darem, almal het "sharing rights" tot die lys. Dankie ook vir die Facebook "invite". Soos ek gesê het, kom net bietjie min daarby uit, maar sal regtig meer effort insit. Wees gewaarsku, dis soos gholf - as die ding jou behoorlik byt los hy nie maklik nie.

O ja, nou vir die lys: (Klaar weer ver weg daarvandaan - net gou nog iets - die Kontakte lys is intussen verander na naamsgewys alfabeties. Lees en vergelyk net makliker.)
Janette Wierenga
Thomas Gunning
Jannie Breytenbach
Christo van Rooyen
Jorrie Jordaan
Hentie Grové
Bielie Erasmus
Walter Pretorius
Johan Basson
Pieter van Rooyen
Heleen van der Merwe (nou Robberts)
Engeline Nel
Susan Lombard
Elsabé van der Heyde
Wolla Prinsloo
Dorinda Geyer

As ons hierdie span se besonderhede kan bysit is ons amper halfpad. Dit WIL gedoen word, hoor! Ons kan amper begin reëlings tref vir datum en plek vasmaak en someer. Esmé praat juis van Wolla wat funksies reël by 'n plek in Pretoria. Dalk gebeur dinge makliker as wat ons almal gedink het - ek wens nou net Wolla wil uit die gat kruip en op die wa klim dat hy kan vertel wat hy ons kan bied. Ek raak sommer klaar opgewonde. (O, ja Gerda, paar keer probeer om vir Evert in die hande te kry - geen sukses - dalk ander kontakbesonderhede asb?)

Soos met alles in ons lewe, moet ons bietjie kan stil staan ook om "stock" te vat vir al die seëninge wat ons God vir ons gee. Die lewe het al sy skerp kant vir ons almal gewys en ons harte het al almal gebloei. Vir ons, as oud Nylies, is dit belangrik om herinnering te doen aan Gerhard van der Heyde wat al weg geval het. Elsabé, jammer vir die krap, (julle was nog tweeling ook) die seer bly seker maar altyd daar - is ek reg as ek sê dit was 'n motorongeluk waarin Gerhard oorlede is so om en by tien jaar terug? Die krap is nie lekker nie, maar ek dink ons kan dit tog noem vir mekaar - dat ons net weer kan besef, ons is geseënd om asem te haal. Dis iets wat aan ons geskenk is, nie om net te kan lewe nie, maar om doelgerig te leef!

Jong, lyk my die "Blog ding" wil nie eintlik van die grond af kom nie. Kan ek maar uittreksels van almal se briewe vat en copy en paste op die blog? Net om darem te wys daar is lewe op die blog ook? Barry, hou nou op beloftes maak tussen jou en Louis - kry die jaarboek en foto's elektronies en stuur maar aan laat ons kan sien of ons dit op die blog gesit kan kry - dit sal dalk maak dat meer mense die plek wil besoek - die blog lyk in elk geval baie ylerig op hierdie stadium. (pdf behoort seker te werk.) Petra, ek weet nie wat regtig op Nylstroom by die skool aangaan nie en gaan jou offer opvat. Wil jy hulle nie bel en vertel wat ons beplan om te doen nie. Hoor bietjie by hulle of hulle iets in die argiewe het - mens weet nooit - dalk het iemand al hulle argiewe elektronies laat stoor, dan hoef ons nie eintlik die wiel twee keer uit te vind nie.

Terug by die plaas van uittreksels van pos op die blog - dis nou natuurlik nie die kommunikasie tussen Pieter en Charl nie.

Ek dink in elk geval almal het nou begin ritme kry met die e-pos storie, dan is daar nog die blog ook wat staan en bewe om aan die gang te kom. Ek dink nie ons gaan aangaan met die SAReunited ding nie aangesien dit geld kos - namesdatabase - kon ook werk, maar ek dink die kontaktelys gekombineerd met die e-pos/blog werk goed genoeg.

Net weer die blog adres:

http://boepensenblom.blogspot.com/

En die kontakte lys se link:

http://spreadsheets.google.com/ccc?key=p5P083h3PAcFMoc_4Bd48IA&hl=en&pli=1

Ek sien Japie wil begin braai reël om te beplan vir die reëlings.... ek is bietjie ver om 'n tjoppie op te gooi, maar ek het lanklaas so 'n sinvolle idee gehoor! Lanklaas - ek is in België waar so iets nie eintlik in die manne se verwysingsraamwerk val nie en sinvol - geen beplanning is so lekker soos om 'n vuur nie. Vir die wat gaan deel neem - drink een op ons ander ver van die huis ook asb!
Vir eers is dit dan dit - die son kom al amper op.

Pieter

No comments: