Monday, December 3, 2007

Naamsnuffels & Gholfstokkies

Hallo almal

Die reunie snuffel is glad nie werk nie, ek het eintlik ‘n vreeslike groot jol! Vir die van julle wat ‘Defending the Caveman’, Tim Plewman (opvoering) gesien het: hy se op ‘n stadium dat as jy iets doen waarvan jy hou, dit jou ‘energize’! Vrek lekker om weer van almal te hoor, ek geniet die kwinkslae en nuus geweldig….uit elke liewe oord. Twee dinge:
- My sosiale lewe is besig om effe te sneuwel met die dat ek al hierdie lekker briewe wil antwoord! en ek slaap definitief baie minder;-)
- Ek moet ook bieg: was 5 jaar terug vreeslik lus hiervoor, maar julle weet mos, voor mens jou ogies uitvee is nog ‘n jaar verby! Dankie vir elkeen wat ‘n adres & nommer uitsnuffel, ‘n blog/brief skryf– doet so voort! En, ag ou Pieter, weereens dankie vir die afskop jong!

Ek stem ook vir ‘n plek waar ons ‘n keuse het tussen kamp/chalets ens. .. My kampgoed staan regs voor in die stoorplek, net reg vir optel & gatskuur wanneer ek in SA kom….moes maar nog altyd so plat op die grond batterye herlaai!

Ouens, toe hierdie gholfstokkie stories begin heen en weer vlieg, dink ek toe nou so by myself:
(Eers wou ek ‘n mooi vergelyking uitwerk waar gholf en stokkies mooi uitkanselleer bo en onder die lyne, maar my moed het my begewe, was ook vrek besig by die werk, maar tog, nou met die asemskep ‘n paar goed, ek sal maar begin lys):
- Weet net hoe ‘n gholfstok lyk – en watter kant om vas te hou as ek ‘n skelm oor die kop wil slaan, nog nooit daarvoor tyd gekry nie en was nog altyd eerder … nee wag, ag ok….eerder ‘n ‘hands on meisie’ as dit by balle kom– netbal en so aan….
- Almal gaan ‘n stukkie van almal wil he, en ek sal graag die dag soos ‘n skoenlapper van boepens (al het ek nog nie ‘n enkele boepens op facebook gesien nie!) tot blom wil kuier. So van die os op die jas: kom ‘facebook’ saam!!
- Dit gaan moeilik wees om van boepens tot blom te kuier as party op die gholfbaan vashaak (en ek weet mos nou van my pelle - ek het darem pelle wat gholf speel) dat mens lelik kan vashaak by die watergate, en ek wil by ALMAL uitkom
- Dat party van ons darem nou van baie ver kom vir die okkasie, boervroue uit die Karoo, Vrystaat, ander van die kus en so aan (ek is ook darem deesdae van dies wat op troues bedank word omdat hulle van ver kom ;-) ek & Pieter B is darem nog amper op dieselfde lengtegraad as SA, en dan is daar ouens wat dagreise ver van die Outback gaan kom!

Ek dink nie ons moet die Saterdag (en ek bedoel die hele dag!) die mense laat uitmekaarspat nie, dit gaan oor die mense, almal se dag, om bymekaar uit te kom en te kuier. Maar niks keer ons natuurlik om dievolgende dag te gholf, ‘n kop te gaan uitklim of wat ook al nie. Teen daardie tyd het ons dalk weer biki aksie nodig.

O ja – waarsku asseblief julle geliefdes: ons gaan ‘n hond uit ‘n bos kuier! As julle nou ook wil saamkuier op Facebook, kan ons intussen darem sien hoe lyk julle mense (verskoning, julle ook;-) en is ons nie meer volksvreemd vir mekaar nie. Behalwe nou vir die wat gladnie van my kan ontslae raak nie:
- Elsie vriendin, die bergklimvrou (Kyk bo-aan p14 Augustus WEG), wat alweer met dapper stapper die Walvis doen terwyl ek hier in die vreemde sit!
- Gerda dP (Tuinplaas), my st 2 buddy, wat nog al die tyd ‘n pad saam stap
- Magda, my vriendin vir wie ek elke 5 jaar gaan kuier in Louis Trichardt, die vriendskap het begin in die koshuis studiesaal
- Esme, veldskoolvriendin wat ek elke keer by die see raakloop en laas amper uit die bakkie geval het toe ek haar weer in Piandane raakloop
- Amanda, st 7 kammie
- En dan is daar natuurlik die van julle wat ek oral raakgeloop het, die selnrs veilig bewaar het en vir julle my ‘famous’ reunie sms gestuur het vir hierdie groot okkasie!

A! het julle nog die draad van die storie? ….weet ek (van Facebook nou, ouens;-) dat:
- die Pieters (B & dT) ook lief is vir kamp (ok ok Gerda, jy ook;-)
- SJ & Pieter (dT) onlangs pa geword het,
- ek vir VD (Gerhardt!) bang geskryf het;-).
- die Pieters net so effe onder ons uithol met die blogs en so aan (en dan vra hulle wat is in ‘n naam?), maar ons hou dapper by
- Wanneer ek eendag groot is, daar ‘n paar boervroue is wat my gaan leer boer!

Ek wil my nog op ‘n stadium verstout om te se dat dit al my jonger pelle is wat saam Facebook, maar miskien vir ‘n volgende keer ;-).

Arrie Warrie, tot ‘n vreeslike plesierige weersiens!
Marléne uit Qatar (vir die van julle wat my nie op die wereldkaart kry nie, die afrikaanse spelreel ‘u na die q’ geld nie hier nie, ons le reg wes van Dubai, reg oos van Bahrain, in die arabiese golf)…

No comments: