Nou ja, die beplande braai wat in SA sou plaasvind is seker nou al net as!
Die roes van die ou jaarspartytjies, die as van die braai - alles is nou vergete. Die jaar is aan die gang en almal hardloop teen 'n myl 'n minuut om by al die beloftes en doelwitte vir 2008 uit te kom. Dis asof die jaar reg "gekickstart" moes word om te verseker dat ons by alles gaan uitkom waarvoor ons graag wil uitkom in 2008.
Om nou vir almal te wil se: Hêppie new year! - is soos mostert na die feesmaal. Dit is plat en sonder passie want dis nie verwikkel en toegeweef in die as en roes van die feestyd nie. Emosioneel pas dit nie meer nie. Ek probeer sin maak in wat ek meen ek wil sê of probeer bedoel wat ek meen maar die woorde wil nie reg agter mekaar val nie. 'n Hopelose taak om te verduidelik as jy nie wil verduidelik nie......
Kom ons skop maar af deur te bly by die roes. Die roes is tog nog seker immers vars in ons verwysingsraamwerke - die roes van die opgewondenheid van kontak en gesprekke met lang vergete pelle, die roes van die afstof van herinneringe. Die roes van lang vergete gedagtes. Uniek aan reunies, moet hierdie roes en die as van herinneringe nou eers weer gestalte kry. Die enigste manier hoe gestalte hieraan gegee kan word is om al die lekker herinneringe nou na 'n groter, meer intenser vlak te neem.
Ons het 'n reunie vir 2008! Dit is iets groots in enige raamwerk. 'n "Once in a life time" gebeurlikheid. Seker een van die mees belangrikste doen dinge, doelwitte, mylpale, noem dit wat jy wil - vir die jaar.
Terwyl almal op hete kole sit en bewe soos net 'n foksie op sekere tye kan bewe, moet ons seker die toue vasknoop vir die grootse affêre. Jarries het hoeka al laat weet dit lyk nie asof SA vir hom deel van die beplanning vir 2008 kan wees nie. (Hopenlik is die bier in Italië nog daar...) Ek het, myself, skoon vergeet om te stem op die blog..... toe ek wou stem sien ek die sluitingstyd is reeds verby. Dit laat my toe besef, kêrel, hier moet jy nou spring of ons verpas die bus. Gelukkig, as ek reg kan onthou... in twee briewe wat die "timelines" uitgewerk was - is einde Januarie aangegee vir die vasmaak van die venue en die datum.
Datum is dus:
Die mees praktiese datum is die naweek van 18, 19, 20 Julie 2008. (Vir die wat wil, julle kan maar dae voor en na die tyd bylas)
- die Gauteng skole het dan pas begin
- min skool aktiwiteite aan die gang.
- die vakansie is verby en die "bookings" is seker buite seisoen.
- weer by die roes - anner mense werk die roes van die skoolvakansie af en gaan nie dan naweek hou nie - ons behoort genoeg van 'n plek vir ons self te kan hê.
Plek
Met my benewelde (min slaap) en beperkte vermoëns het ek lank terug slegs Weesgerus opgesit vir stemming. Dit irriteer my grensloos en kon dit net nie weer daarna verander nie. Ek sien die mense het darem vir Weesgerus gestem - maar daarmee saam, veroorloof my om die volgende afleiding daaruit te maak (for lack of any other options to choose from) Dat 'n fasiliteit soos Weesgerus die aanvaarbare gedagtegang vir die meeste is (naweek wegbreek) maar dat dit nie noodwendig Weesgerus hoef te wees nie. Ek het absoluut sin in ander plekke ook en hou nogal van die Thaba Monate gedagte.
Engeline het haar naam gestand gehou en met die meeste en wonderlikste voorstelle gekom en sy is aanmekaar gesit vir hierdie dinge. Sy ken al die plekke en weet wat ons gedagte gang is vir die naweek. Om nog verder in te vryf - sy het ervaring met hierdie tipe reëlings. Engeline, ek haal aan uit jou brief:
1.Abba Game Lodge - geleë op die Donkerpoort Dam pad, oulike, bekostigbare selfsorgeenhede en groot kampeerplek. Genoeg om te doen vir die kinders, restaurant en oulike lapa vir funksies.
2. Bogenoemde is die boetie van Thaba Monate - geleë tussen Nylstroom en Warmbad op die ou Warmbad pad. Dieselfde profiel as Abba Game Lodge.
3. Hide Away. Oulike nuwe plekkie geleë op die Eersbewoond pad tussen Nylstroom en Warmbad, baie skaflike selfsorgeenhede en kampeerterrein. Genoeg vir die kids om te doen.
4. Klein Paradys - neffens die Protea Hotel Shangri-la geleë. Spesialiseer is kampering, selfsorgeenhede van "aanvaarbare" standaard. Restaurant wat baie beskostigaar cater, genoeg vir kids om te doen.
5. Maroela Vakansie-oord - Ook op Eersbewoond pad geleë neffens Hide Away. Tariewe bekostigbaar maar nie vreeslike verskeidenheid selfsorgeenhede nie (ek dink net so 8 eenhede). Lekker baie om te doen vir die kinders.
7. Bela Bela lodge (ou Floyds motel - wie sal dit ooit vergeet??) Heel mooi oorgedoen en min of meer dieselfde profiel as die ander plekke hierbo genoem
9. Klein Kariba - glo nie hy het bekendstelling nodig nie - alles hierbo in kwadraat, selfsorgeenhede wissel van profiel - ouer eenhede tot luukse nuwe eenhede wat dus in elke beursie se behoefte kan pas. Baie goeie catering - verskeidenheid van lapa's beskikbaar. Natuurlik `n paradys vir kinders.
10. Forever Resorts Warmbaths - ou Aventura. Die oord is pragtig opgegradeer maar uiteraard duurder as die ander keuses. Die catering hier is van uitstaande gehalte en `n heerlike groot lapa in die natuurreservaat is die perfekte venue vir `n partytjie/funksie
11. Weesgerus - ek dink aan meeste bekend, dieselfde profiel as Klein Kariba behalwe dat hul tariewe ietwat goedkoper is.
Nou wil ek vir jou vra: Neem asseblief die inisiatief en besluit watter een van die plekke wat jy genoem het die beste sal werk. Doen dan asb vir ons 'n blokbespreking en laat maar weet wat die koste vir elke gesin gaan wees en wat die sperdatum vir die blokbespreking is. Ete gewys dink ek aan gesamentlike ontbyte Saterdag en Sondag (elke ou vat sy eie goed maar ons braai en berei voor op 'n gesamentlike plek) en 'n ete die Saterdagaand.
Heng mense - dit klink so stomp! Twee brêkvisse en 'n "dinner" en alles is oor. Dit is 'n hartewens dat almal genoeg tyd saam sal spandeer om ou vriendskappe weer af te stof dat dit weer vir nog 'n paar jaar sal kan hou.
Met al die bogenoemde gesê dan weer terug by die as van die vooraf braai......... ook die roes van die aanvanklike oopkrap van herinneringe....... ons het nog nie naastenby almal bereik nie, kom ons maak nou vir die tyd wat voorlê 'n "commitment" vir ons self om te probeer om soveel moontlik ander mense te kontak. Ek dink net ons kan net tevrede met ons self voel as ons ten minste 90% mense gekontak het.
'n Hengse dankie aan almal wat so baie help om mense in die hande te kry. As ons maar hoor het Gerda of Petro weer iemand nader gehark. Dan vir die ander blikskottels....... wat e-pos adresse en kontakbesonderhede het en nie wil op die wa klim nie..... ek kan nie so wonderlik diplomaties soos Gerhard wees nie..... of met Marléne se geduld 'n hand sout uit hou om te eet nie........ klim nou op die donnerse wa en ry saam! (ouch, dis seker bietjie te kras - snaaks, my "delete" knoppie wil nie werk nie....) Damwal?
Is daar iemand wat bereid is om in die Beeld, Volksblad en Burger se "smalls" te adverteer oor die beplande reunie? So iets kan help - julle is meer as welkom om enige kontakbesonderhede (e-pos en sel) as verwysing te plaas. Ek sal my alie in rat kry en met Niekie vd Berg kontak maak en hoor of ons net 'n paar minute op radio kan kry. Die probleem is net - ek skuld hom reeds 'n guns en nie hy vir my nie........ dis 'n baie lang storie en ek sal miskien later daaroor uitwei... miskien as ek die kans kry, kan ek sommer op die radio my skuld aan hom betaal. Weet almal net, my naam sal uiters gat wees (meer as nou) as ek my skuld aan hom oor die radio moet betaal. Maar nou ja, ek voel so sterk om soveel as moontlik mense te bereik, dat ek dalk net bereid sal wees om dit te doen. Sou die man instem, sal ek laat weet van 'n beplande datum.
Nog veel om te sê, sal egter later weer praat.
Weet net, Magda, SJ, Piet, Barry, dankie vir die knaendheid - nog ander mense ook, maar veral vir Marléne - die see sal my nie kan afwas nie... met reg ook.
c",)
O, ja Google Groups, Google Blog - same as in different and different as in same. Maak nie saak waar julle wil "post" nie - onthou albei is "gelink" met jou e-pos adres en kom in elk geval by jou "inbox" uit. Blog is net bietjie meer vryer om te gebruik vir ander funksies soos plak van koppelstukke op die internet, foto's en videos, webadres koppelinge, Youtube, Facebook ens, ens, ens. Ons gebruik net nie die funksies op die oomblik nie. Sal kyk of ek daarby uitkom.
As voorbeeld - vinnig Hoërskool Nylstroom research gedoen, maar geen website is geregistreer nie - sou daar egter 'n website gewees het sou mens hom kon koppel op die Blog soos die voorbeeld wat ek nou gemaak het - dis die naaste wat ek kon kry aan 'n website vir die skool.
Tot later
Wednesday, January 30, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment