Ek is nou die dag ernstig deur iemand gekonfronteer met die volgende woorde:
"Ek het met sekere van die mense nog nooit 'n woord gepraat in die 5 jaar wat ek saam met hulle was nie, wat gesels mens dan na 25 jaar? Hoekom sal iemand my wil sien na 25 jaar."
Hierdie woorde het my tot my sinne geruk en weereens het ek net besef: die wêreld is nie net Bester blou of swart of groen daar buite nie. Daar is mense wat dit anders sien.............
Voor ek nou hier wil verder filosofeer, net een ding vinnig... ek kom meer en meer agter hoe my Afrikaanse sinskonstruksie verswak na mate ek my Afrikaanse aksent verloor.... asseblief, vergewe my vir die agterstevoor manier van skryf. Let wel! In 'n mate verloor ek my aksent maar tog nooit my taal en passie nie. Ons Afrikaners het 'n manier om alles direk vanuit Afrikaans na Engels te wil vertaal en sit dan die sinskonstruksie ook so aan mekaar. Noudat 'n mens hier tussen die klomp anderstaliges is, moet ek heel oplettend wees hoe en wat ek sê om seker te maak daar is nie misverstande nie. Misverstande kan nogal aardig raak in die wêreld waarin ek myself beleef.
Na 25 jaar.... wat gesels mens na 25 jaar? Ek weet nie. Ek is 'n hart mens, passie mens, emosioneel en vol dinge, ek praat wat die hart sê, ek praat wat in die hart aangaan want my kop is baie keer te deurmekaar. Ek self weet partykeer nie aldag wat in my kop aangaan nie, so ek gaan nie ander daarmee deurmekaar maak en probeer praat wat my kop sê nie. Maar my hart? Daar het ek rustigheid, en daaroor kan ek praat. Die tyd wat hy erg deurmekaar was, dit was die tyd toe ek vir Daleen ontmoet het, toe ek vir Ilse ontmoet het, ook vir Heleen, maar meeste van alles, toe ek my vrou ontmoet het. Nie lelik deurmekaar nie, lekker deurmekaar..... die deurmekaargeid is nie eintlik deurmekaargeit nie. Dis net alles op een slag en baie vinnig - Doef, doef, doef, ..... hierdie tikkery kan nie doef, doef vinnig genoeg skryf nie, maar nou ja, dis amper soos 'n masjiengeweer, 'n 50 Browning se skote. Dis eers later wat die hartklop stadiger raak, meer rustig, soos die "start" van 'n Lister enjin.
Nou kyk nou net hoe probeer ek nou verduidelik, alles deurmekaar - probeer seker maar met my kop praat! Wat ek eintlik wil sê is dat ek nie weet wat om te sê of waaroor om te praat na 25 jaar nie. Wat ek wel weet is dat dit belangrik is om te kan praat, of te wel, te kan tik. Hierdie reunie oopkrap was vir my 'n absolute bestiering en ek vind dit heel terapeuties. So baie spesiale mense met wie ek weer kan begin kommunikeer. So baie spesiale mense, dat ek wraggies nie by almal uitkom nie. So baie mense, dat ek ander mense wat ek intussen langs die pad raakgeloop het half afskeep om tog net by van die ou vergetes uit te kom. Of almal wil hoor wat ek te sê het.... dit betwyfel ek ernstig, maar dat ek 'n behoefte het om te praat, dit mense, kan niemand betwyfel nie.
Die feit dat ek nie by almal uitkom nie, heng dit vreet aan my, ek wil bitter graag gesels maar kom nie daarby uit nie. So baie spesiale mense..... Petra en Magda, ek het gesê ek gaan begin skryf, wat kan ek sê? Jammer, nee wat - jammer se gat - dit werk eenvoudig net nie. Daleen, Amorita, Elsie.....sal begin skryf, alles net leë gepraat, kom nie daarby uit nie. Nog meer, Janette, Marna en Gerda, ons was van dieselfde dam se eende.... ek raak mal.... Liana, ek wil nog sê dankie vir die verduideliking, ek wou nie lelik wees nie, dit was sommer net 'n stekie omdat ek brand om te gesels, wanneer weet ek nie. Dorinda, ek sal nog later vir jou van Arien vertel...... hy kom so elke tweede jaar 'n "stage" of twee by Mnt Blanc van die Tour de France doen, ek wil nog vir Esmé sê die laaste keer toe ek haar gesien het kon ek haar ma in haar sien - dieselfde fyn gelaatstrekke, ek wil nog sê ek het eendag vir Louis by Pick & Pay raakgeloop, vir Elsie en Neels by Little Company of Mary met al my ma se gedoentes.... vir nuwe mense wat ek sien wat tussenin geregistreer het, vir Paul Westmaas, ek wil nog sê dat jy die ou is wat my die hardste nog gebliksem het.... dat dit so nodig was.... vir Gerhard... die laaste brief wat ek geskryf het was seker te rou, ek wil nog sê, jammer, dit moes miskien anders uitgekom het. Vir Japie, vir SJ en Piet du Toit, veral ook vir Damwal, die blikskottel wat nie meer met my vereenselwig wil wees nie. Rick, Johny en Frans en veral ook Dewald Steyn, o ja, en Patrick. Riekie kom sommer dadelik op en dan moet ek tog vir Heleen ook nog klomp dinge vertel, groot dinge van daai tyd, hartsdinge... wonder hoe gaan dit met Pieter? Helena, Olga, Ansie, ek raak mal.... Ansie, ek ken jou neef goed... ek kan nog baie name noem.... om presies te wees ek kan nog 115 name noem (dis wat die klaslys sê) O,,ja... Esmé B, onthou jy van tussen die saal en kantoor........ Sonja, ek het vir Pierre op Pietersburg, Naboom en Nylstroom raakgeloop, elke keer aan jou gedink. Heng, ek kan aangaan en ek gaan net meer en meer meegevoer raak, dinge wat ek nog wil sê, wou sê, nou wil sê... hierdie tikkery kan nie al die gedagtes soos 'n worsstopper alles in 'n ry bymekaar hou en instop nie.
Vir my is die tyd tot en met die reunie reeds te kort om met almal te gesels voor die tyd. Die reunie dag of wat, dit gaan ook te kort wees.... Jacolette, dis swaar, maar ek dink kanselleer my maar vir die golf jong..... So van Jacolette gepraat, ek is bly en werklik dankbaar dat iemand gat geskop het, was dit nie vir daai skop nie het ek hierdie nooit geskryf nie. Dankie, Jacolette.
O ja, ek mis net nie vir Jacolette, Barry, Jarries en Marlene nie... ons gesels gereeld. Ek en Jarries sien mekaar hopelik oor 'n week en ek en Marlene hopelik oor twee.
My wêreld is Bester blou of groen, want ek wil hom so hê.
Groete
Friday, March 7, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comment:
Mooi gestel Pieter!
Mooi gestel!
Ek moet sê, indien ek gewonder het wat om te sê, is daai raaisel opgelos toe mens net eers van ons groepie weer sien, soos die 5 of 6 van ons wat in Menlyn bymekaargekom het! Vir wie-ookal daai opmerking gemaak het wil ek graag meedeel dat elkeen van ons oomblikke deel met ander. Oomblikke waarin ons elkeen 'n stukkie van onsself geskenk het as afdruk op die ander. Moet nooit daai oomblikke onderskat nie. Glo my, jy weet gewoonlik nie van al die oomblikke waaruit herinneringe gemaak is nie. Jy mag selfs nie eers tans die herinneringe onthou nie - maar moenie jouself die geleentheid ontneem om te gaan uitvind nie. Die wonderlikste oomblikke kan weer bloot gelê word deur net op te daag!
Post a Comment